Nóg ‘n oorwinning vir Afrikaans: DA verslaan Khampepe-verslag se aanslag teen taal op Stellenbosch

Die Demokratiese Alliansie (DA) het nog ‘n slag geslaan vir Afrikaans, hierdie keer op Stellenbosch. Kort nadat ons die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl beskerm het teen die ANC, en Blade Nzimande se pogings om Afrikaans as “uitheems” te verklaar verslaan het, het die DA nou ook korte mette gemaak met die gewraakte Khampepe-verslag se aanbeveling dat Afrikaans geheel en al afgeskaf moet word aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Kort na die uitreiking van hierdie verslag deur oudregter Sisi Khampepe – wat Afrikaans gelykstel met rassisme en aanbeveel dat die universiteit se taalbeleid hersien word om ontslae te raak van die taal – het die DA op 11 November ‘n prokureursbrief geskryf aan US-rektor Wim de Villiers. Die brief het dit duidelik gemaak dat die DA regstappe sal doen indien die verslag se aanbeveling oor die afskaffing van Afrikaans in werking gestel word. Ons het dit ook beklemtoon dat die DA die gelykstelling van Afrikaans aan diskriminasie en uitsluiting verwerp en dat dit onaanvaarbaar is vir ‘n hele gemeenskap om toegang tot moedertaalonderrig te verloor op grond van onderhoude met slegs 22 persone uit ‘n universiteitsgemeenskap van meer as 33 000.

Die DA het ook geskryf aan die trustees van die Het Jan Marais Fonds met die versoek dat alle befondsing aan die universiteit onttrek word indien die Khampepe-aanbeveling oor Afrikaans deurgevoer word. Jan Marais het in 1915 die skenking gemaak waarmee die US gestig is, op die uitdruklike voorwaarde dat befondsing onttrek moet word as Afrikaanse onderrig ooit afgeskaf word.

Volgens berigte is die Khampepe-verslag se aanbevelings Maandag op die spits gedryf tydens ‘n vergadering van die US-Raad in Stellenbosch, waarvan die DA se Dr Leon Schreiber ‘n verkose lid is. Te midde van volgehoue DA-druk het De Villiers volgens berigte tydens die vergadering toegegee dat die US se taalbeleid, in lyn met die DA se eise, nie verander sal word nie. ‘n US-woordvoerder het blykbaar na die vergadering bevestig dat Khampepe se aanbeveling oor Afrikaans verwerp.

Die DA verwelkom hierdie dramatiese ommeswaai as ‘n uiters belangrike deurbraak in ons veldtog ter beskerming van die reg op moedertaalonderrig. Oudregter Khampepe se bevindings oor Afrikaans was beledigend en ondeurdag, en die inwerkingstelling van haar aanbeveling sou die doodsklok lui vir die taal op Stellenbosch.

Danksy die DA se vasberade aktivisme, is Afrikaans gered van totale ondergang aan die einste universiteit waar dit tot akademiese taal ontwikkel het. Ons sal nou seker maak dat die US sy woord gestand doen deur nie Khampepe se aanbevelings oor Afrikaans te implementeer nie.

Hierdie uitsonderlike oorwinning vir Afrikaans bewys dat die ondergang van ons inheemse tale nie onafwendbaar is nie, en dat die DA ‘n betroubare bondgenoot is vir almal wat hul taalregte wil beskerm teen aanvalle soos dié van Khampepe. Die DA sal voortgaan om die harde werk te doen om te verseker dat die US nie, soos talle ander universiteite, die pad van algehele verengelsing loop nie.