DA veg in hof vir moedertaalonderrig op Stellenbosch

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Dr Leon Schreiber LP.

Die DA en StudentePlein was Maandag in die hof as deel van ons saak teen die Universiteit van Stellenbosch (US) ter beskerming van moedertaalonderrig aan die laaste universiteit in die suide van die land met die vermoë om onderrig in Afrikaans te verskaf. Die DA se saak spruit uit die wyse waarop die US-bestuur die Covid-pandemie misbruik het om onwettig weg te doen met die beskikbaarmaking van leermateriaal in Afrikaans.

Vir meer as twee jaar lank is die pandemie as ’n verskoning misbruik om op onregmatige wyse van die universiteit se taalbeleid af te wyk. Die gevolg was dat die duisende Afrikaanse studente aan die US benadeel en ontneem is van hul reg om onderrig in hul moedertaal te ontvang.

Tydens Maandag se hofverrigtinge het die US se regspan effektief die meriete van die saak toegegee deur te erken dat die universiteit nie by sy eie beleid gehou het nie. In plaas daarvan om die meriete van die saak te probeer verdedig, het die US aanhoudend probeer om tegniese redes voor te hou waarom die hof nie teen die universiteit moet bevind nie.

Dit sê ook baie oor die universiteit se minagting vir Afrikaans dat hulle derduisende Rande op hierdie saak spandeer eerder as om bloot om verskoning te vra vir die wyse waarop hul eie taalbeleid verontagsaam is, en die bindende onderneming te gee dat dit nie weer sal gebeur nie. Die enigste logiese rede waarom die US-bestuur bereid sou wees om soveel geld in die hof hierop te verkwis, is omdat hulle van plan sou wees om Afrikaanse studente in die toekoms selfs verder te benadeel.

Die DA sien uit na die hof se uitspraak, wat voorbehou is. As die voorste politieke kampvegter vir moedertaalonderrig in Suid-Afrika wat daad by die woord voeg wanneer dit kom by die beskerming ook van Afrikaans, sal ons aanhou veg vir geregtigheid in hierdie saak.