DA sal BELA-wetgewing in die Parlement teenstaan

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Desiree van der Walt LP, DA Skadu-adjunkminister van basiese onderwys.

Die DA verwelkom die mobilisering van burgerlike organisasies teen die drakoniese wysigingswetsontwerp op basiese onderwys (BELA), wat poog om die ANC-regering se oorlog op Afrikaans af te dwing sonder om die verrykende gevolge van gehalte-onderrig in ander inheemse tale in ag te neem.

Die DA onderneem om die stem in die Parlement te wees wat die BELA-wetgewing sal teenstaan.

Die DA het al breedvoerig gekommunikeer oor die problematiese aspekte van die BELA-wetgewing en die ‘Lesufi-klousules’ wat skoolbeheerliggame se mag sal verwyder om te besluit oor taal- en toelatingsbeleide wat in die beste belange van hul gemeenskappe is. Die DA sal die BELA-wetsontwerp met alles in ons vermoë beveg en voortgaan om dit in die Parlement teen te staan.

19 burgerlike organisasies het aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, geskryf om al die problematiese klousules van die BELA-wetsontwerp uit te lig. Die Gautengse LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, en sy ANC-makkers se irrasionele haat vir Afrikaans en alle sprekers van die taal sal nie net die sprekers benadeel nie, maar ook moedertaalonderrig in alle inheemse tale en kwaliteit onderwys as geheel.

Die BELA-wetsontwerp is ’n sprekende voorbeeld van die ANC-regering wat ideologie bo die welstand van die mense stel wat hulle moet dien. En as nasionale regering is hulle bedoel om al die burgers van Suid-Afrika te dien, ongeag die taal wat hulle praat.

Die DA doen ’n beroep op die publiek om hul bekommernisse skriftelik te rig aan Llewellyn Brown, die sekretaris van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys. Hulle kan dit e-pos na belabill02@parliament.gov.za; aanlyn indien by https://forms.gle/MoC6AdbdQyYPk3Y49 of via WhatsApp stuur: +27 60 550 9848. Alle skrywes moet teen 15 Junie 2022 om 16:00 ingedien wees.