Nampo 2022 is waar Suid-Afrika se belangrike gesprekke oor die komende voedselsekuriteitskrisis gaan plaasvind

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van John Steenhuisen, asook foto’s hier, hier en hier.

Vandag woon ek die 54ste Nampo-landbouskou buite Bothaville in die Noord-Vrystaat by. Hierdie jaarlikse uitstalling en besprekingsforum wat deur die Nasionale Mielieprodusente-organisasie (Nampo) aangebied word – en wat die afgelope twee jaar weens Covid-inperkings nie kon plaasvind nie – is deesdae een van die belangrikste datums in ons landboukalender. Die uitruil van idees daar gaan van kritieke belang wees vir ons land se voedselsekuriteit soos ons ’n somber en onseker winterseisoen nader.

Hierdie is ’n forum aangebied vir boere, deur boere, waar hulle die geleentheid het om nuwe tegnologie en toerusting te besigtig, om idees oor beordery uit te ruil en om die grootste uitdagings in hulle sektor te bespreek. Nampo is vandag die grootste landbouskou in die suidelike halfrond, en sal hierdie jaar ’n aantal internasionale uitstallers sowel as besoekers van so ver as Namibië, Botswana en die DRC verwelkom. Dit is ’n aanduiding van die kritieke rol wat landbou op ons kontinent speel, en van die toewyding van die boeregemeenskap om ons land se voedselsekuriteit te beskerm.

Deur die loop van die dag sal ek gesels met boere, asook met die bestuur van Graan SA, om te luister na hulle insette oor die komende globale en plaaslike voedselsekuriteitskrisis, en om te praat oor hoe ons almal kan help om die effek van die oorlog in Oekraïene – en veral die impak op graan- en olieproduksie – te beperk.

Boere veral, gaan hierdie oorlog se impak voel wanneer kunsmis-, petrol- en dieselpryse dramaties begin styg. Hierdie stygende operasionele en vervoerkoste sal lei tot voedselprysinflasie wat arm Suid-Afrikaners hard gaan tref hierdie winter. Dit is daarom van kritieke belang dat elke moontlike oplossing ondersoek word om kwesbare gemeenskappe teen armoede en honger te beskerm.

Hierdie oplossings moet ’n verdere opskorting van die brandstofheffing, BTW-vrystelling op meer voedselprodukte, spesifiek hoender en vleis, en die afskaffing van suikerbelasting, insluit. Dit moet ook planne insluit om ons plaaslike produksie van gewasse soos koring en kanola te versterk, soos wat reeds in die Wes-Kaap onderweg is.

Ek gaan ook vandag met boere gesels oor die vele ander uitdagings wat hulle sektor, hulle sakeondernemings en hulle veiligheid bedreig. Dit sluit die aftakeling van eiendomsreg onder die dreigement van grondonteiening, die uitdagings om ’n boerdery te bedryf ten midde van verbrokkelende infrastruktuur waar boere self paaie moet regmaak, die impak van beurtkrag, en die volgehoue bedreiging van plaasaanvalle in. Ek sal ook die Muur van Herinnering besoek, waar slagoffers van plaasmoorde vereer word.

Teen die agtergrond van die ernstige voedsel- en brandstofkrisis wat Suid-Afrika binnekort gaan tref, is Nampo een van die belangrikste gebeurtenisse van die jaar. En met geen teken van kommer van die ANC-regering, gaan dit weer eens gewone Suid-Afrikaners wees wat, ten spyte van hulle regering, die storm moet trotseer. Gelukkig is ons geseën met ’n boeregemeenskap wat opgewasse is vir hierdie taak.