DA verwerp Mthethwa se haatlike plan om Afrikaans selfs uit Afrikaanse Taalmonument te verwyder

Vind asseblief aangeheg ‘n klankgreep van Dr Leon Schreiber LP.

Teen die agtergrond van die Demokratiese Alliansie (DA) se onlangse suksesvolle werk om Blade Nzimande en die ANC regering te dwing om Afrikaans as ‘n inheemse taal te erken, blyk dit dat die ANC reeds hul volgende aanslag geloods het teen die taal- en kultuurregte van Suid-Afrika se uiteenlopende Afrikaanssprekende gemeenskap.

Volgens berigte en verdere inligting tot die DA se beskikking, is die ANC Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, reeds besig met ‘n proses om die “Afrikaans” te probeer verwyder uit die Afrikaanse Taalmonument en -museum in die Paarl.

Mthethwa het onlangs op ‘n openbare vergadering onomwonde gesê dat dit kamstig “ononderhandelbaar” is dat die monument se naam verander moet word omdat dit “uitsluitend” sou wees. As die ANC enige iets geweet het oor Afrikaans en die Taalmonument, sou hulle verstaan het dat dit juis ‘n simboliese viering is van die uiteenlopende invloede vanuit Afrika en dwarsoor die wêreld wat gelei het tot die vorming van hierdie unieke taal.

Na Nzimande se poging om Afrikaans as “uitheems” te brandmerk, is hierdie jongste stap deur die ANC regering is ‘n verdere verskerping van die aanslag teen taaldiversiteit in die algemeen, en spesifiek teen die plek van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Die implikasie is dat, onder die ANC, daar géén ruimte mag bestaan vir ons uiteenlopende taal- en kultuurgemeenskappe om hul erfenis te vier nie. Die ANC sal duidelik nie rus totdat diversiteit op alle gebiede van die samelewing vervang is met ANC-beheerde sentralisering nie.

Nes ons vir Blade Nzimande bloedneus gegee het, is die DA ook reeds besig om te mobiliseer teen hierdie jongste haatlike aanval op Afrikaans deur Mthethwa. Ons het reeds ‘n parlementêre vraag aan Mthethwa ingedien om vas te stel waar hy dink hy die wetlike magte kry om eensydig die naam van die Taalmonument te verander.

Die DA moedig alle Suid-Afrikaners aan wat ons land se ryke en diverse taalerfenis koester om protes aan te teken teen die ANC se pogings om Afrikaans selfs uit die Afrikaanse Taalmonument te verwyder. Ons sal binnekort verdere stappe in hierdie verband aankondig.