DA gaan SA mediese skole se toelatingsvereistes PAIA

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Chantel King LP.

Die DA wil met behulp van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) 13 Suid-Afrikaanse mediese skole nader om vas te stel wat hul toelatingsvereistes rakende ras is.

Dít nadat dr Angelique Coetzee as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) bedank het ná haar kommentaar in die media dat “toelatings tot mediese skole hoogs verpolitiseer is, dat ras ’n beduidende rol speel het in die bepaling van aanvaarding tot mediese fakulteite, in baie gevalle ’n groter rol as die aansoeker se matriekuitslae, en dat daar verskillende kriteria vir verskillende rasgroepe ten opsigte van toelatingsvereistes bestaan”.

Die Universiteit van Kaapstad (UK) se 2022-prospektus het ook onlangs onder die soeklig gekom oor die uitgebreide rasgebaseerde kriteria wat in sy toelatingsproses ingebou is.

Die DA se PAIA-aansoeke sal vasstel:

  • die huidige toelatingsvereistes vir nuwe studente tot ’n MBChB-graad;
  • bevestiging van of aansoekers se rasse-identiteit as maatstaf vir toelating gebruik word, en indien wel, ’n presiese beskrywing van die wyse waarop dit toegepas word;
  • bevestiging of verskillende toelatingskriteria of -drempels geld vir aansoekers van verskillende “rassegroepe”;
  • kriteria en fisiese eienskappe waarop staatgemaak word om individuele aansoekers op rassebasis te klassifiseer;
  • kriteria en fisiese eienskappe waarop gesteun word om te bepaal of ’n aansoeker se “rasse-selfklassifikasie” “akkuraat” is; en
  • die aantal aansoekers wie se aansoeke vir die 2021-inname afgekeur is op grond daarvan dat hulle nie geklassifiseer is om aan voorkeur-“aangewese groepe” te behoort nie en wat andersins toegelaat sou word as hulle geklassifiseer is as behorende tot ’n voorkeur-“aangewese groep”.

Ons het die PAIA-aansoeke by die volgende universiteite ingedien:

  • Universiteit van Kaapstad
  • Universiteit van Witwatersrand
  • Universiteit Stellenbosch
  • Universiteit van KwaZulu-Natal
  • Universiteit van Pretoria
  • Sefako Makgatho Gesondheidswetenskappe Universiteit
  • Universiteit van die Vrystaat
  • Universiteit van Limpopo
  • Walter Sisulu Universiteit
  • Universiteit van Johannesburg
  • Universiteit van Wes-Kaapland
  • Noordwes-Universiteit – Suid-Afrika
  • Nelson Mandela Universiteit

Daar is ’n desperate tekort aan mediese beroepslui in Suid-Afrika, en die DA glo dat alle verdienstelike studente toegelaat moet word om medies te studeer, en dat geen student op die kleur van hul vel takseer moet word nie.

Die land se gesondheidstelsels is onder enorme druk, en om waardige kandidate te verhinder om die mediese beroep te betree is nie net ’n onreg aan daardie individue nie, maar benadeel ook die publiek, insluitend die armes en kwesbares.