Mislukking om Artikel 25 Wysigingswetsontwerp deur te voer ’n oorwinning vir Suid-Afrika se grondwetlike bestel

Die mislukking van die ANC om ’n tweederde meerderheid te verenig om die 18de Wetsontwerp te wysig, wat sou lei tot die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat, is ’n oorwinning vir Suid-Afrika se Grondwetlike bestel.

In ooreenstemming met die uitslag van die komitee in September, waar DA-lede in die Artikel 25 Ad Hoc-komitee eenparig gestem het om die ANC se mosie te verwerp, het die DA-koukus in die Nasionale Vergadering uit een mond gepraat en gestem om hierdie rampspoedige stuk wetgewing die nekslag toe te dien.

Vandag se uitkoms was ’n hoogtepunt van drie vermorste jare waarin die Parlement die wetsontwerp moes verwerk terwyl ernstige kwessies geopper is oor die impak daarvan op die ekonomie, die oppergesag van die reg en voedselsekerheid. Die ANC het van hierdie gevare geweet – vandaar hul onwrikbare weiering om toe te laat dat ’n ekonomiese impakstudie gedoen word.

Ons het lankal betoog teen die noodsaaklikheid om Artikel 25 van die Grondwet te wysig omdat dit in sy huidige vorm reeds genoeg bepalings het om ’n regverdige en billike grondhervormingsproses moontlik te maak.
Sedert sy stigting op 6 Desember 2018, was die Artikel 25 Ad Hoc-komitee net ’n politieke teater vir botsende ANC-faksies en die radikale fantasieë van die EFF. In hul haastige poging om grondonteiening sonder vergoeding en nasionalisering van grond na te streef, het die twee partye hul minagting vir die Grondwet en onvervreembare eiendomsreg van alle Suid-Afrikaners blootgelê.

Die DA het nog altyd aangevoer dat hierdie wetsontwerp nooit na die parlement verwys moes word nie, aangesien dit niks help om grondlose Suid-Afrikaners te help wat deur die ANC se mislukte grondhervormingsprogram in die steek gelaat is nie.

As’t ware het die ANC en die EFF tyd gemors op ’n proses wat nooit die grondkwessie vir grondlose Suid-Afrikaners gaan aanspreek nie. Vir al die jare wat die komitee bestee het om die eiendomsreg van Suid-Afrikaners weg te neem en alle grond te nasionaliseer, moes fokus eerder geskuif het na toegang tot staatsgrond, die verbetering van verblyfsekerheid en die verskaffing van ondersteuning aan opkomende boere.

President Cyril Ramaphosa se herhaalde bewering dat Artikel 25 van die Grondwet gewysig kan word sonder om die ekonomie en voedselsekerheid te beïnvloed, was misleidend. In Venezuela en Zimbabwe het die getorring aan eiendomsreg hul ekonomieë in duie laat stort, gelei tot wydverspreide hongersnood en gelei tot grootskaalse uittog van kapitaal.

Wat Suid-Afrika nodig het, is ’n pragmatiese en rasionele benadering wat binne die grense van huidige grondwetlike bepalings oor grondhervorming sal funksioneer. Nasionalisering van grond en die uitsluiting van die howe om grondonteieningsake te besleg, soos voorgestel deur die ANC en die EFF, sou die oppergesag van die reg ondermyn en Suid-Afrika tot ’n ekonomiese dorsland verminder het.