Vind asseblief aangeheg ‘n klankgreep van Dr Leon Schreiber LP.
Die Demokratiese Alliansie (DA) staan verstom oor ‘n mediaverklaring wat Vrydagmiddag laat deur die Vryheidsfront Plus uitgereik is. Uit die verklaring blyk dit dat dié party hensop in die geveg om ‘n vooruitstrewende en volhoubare toekoms vir Afrikaans in Suid-Afrika te vestig.
Terwyl die DA onverpoosd voortveg téén die Minister van Hoër Onderrig, Blade Nzimande, se haatdraende poging om Afrikaans as “uitheems” te klassifiseer, sowel as teen die aanslag teen Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, het die VF Plus se Dr. Wynand Boshoff Vrydag te kenne gegee dat sy party geen toekoms vir Afrikaans in Suid-Afrika sien nie.
In plaas daarvan om in die kryt te klim en saam met die DA te veg vir taalregte, het Boshoff die DA se klag teen Nzimande by die Menseregtekommissie probeer afmaak as “soos om Koning Leeu by Jagluiperd vir wreedheid aan te kla.” Boshoff verwerp verder taalregte soos in die Grondwet verskans as ‘n “illusie” en maak ons land se verbintenis tot elf amptelike tale af as “onwerkbaar.” Net so verbysterend is dat Boshoff skynbaar ook Nzimande se haatlike klassifisering van Afrikaans probeer verdedig deur aan te voer dat die “‘uitheemse kenmerke van die taal duidelik is.”
Dit lyk dus asof Boshoff in ‘n hele paar opsigte saamstem met die ANC se standpunt dat Afrikaans “uitheems” is en dat dit “onwerkbaar” is om Afrikaans te bevorder.
Terwyl hierdie stellings uiters teleurstellend is, is dit nie heeltemal verbasend nie. Oor die afgelope paar jaar was die VF Plus geheel en al afwesig in die stryd om Afrikaans se toekoms, en staan die DA as die enigste politieke party wat daadwerklik dinge gedoen kry om die regte van Afrikaanssprekendes te beskerm. Die VF Plus praat graag oor hul verbintenis tot Afrikaans, maar Boshoff se kommentaar verklaar waarom hierdie party by geen enkele praktiese geveg vir Afrikaans betrokke is nie.
Waar die VF Plus blykbaar nou die wit vlag gehys het in die geveg om prakties uiting te gee aan die taalregte soos verskans in ons grondwetlike demokrasie, stel die DA geensins daarin belang om te hensop nie. Die DA verdedig nie Nzimande se haatlike klassifisering van Afrikaans nie – ons verwerp dit vir die ongrondwetlike diskriminasie wat dit is. Die DA hensop nie oor die toekoms van Afrikaans en ons grondwetlike demokrasie nie – ons kry eerder ons hande vuil en veg om die grondwetlike regte van Afrikaanssprekendes prakties te laat geld.
Wat wel belangrik is oor die VF Plus se oorgawe in die stryd vir Afrikaans se regmatige plek as ‘n gelyke, inheemse taal wat deur Suid-Afrikaners van alle agtergronde gekoester word, is dat dit aan kiesers die geleentheid bied om op 1 November eerder te stem vir ‘n party wat nie langs die kantlyn staan en hensop nie, maar eerder dag-na-dag prakties werk saam met studente, belangegroepe en die breër Afrikaanssprekende gemeenskap om die toekoms van taalregte in Suid-Afrika te verseker.