Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Dr Leon Schreiber LP.
Die DA staan sterk ter verdediging van die eenvoudige waarheid dat Afrikaans ’n inheemse taal is ná die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se nuutste lafhartige aanval op die sprekers van die taal. In reaksie op die DA se klagte wat gister by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien is, het minister Nzimande vandag sy departement se taalbeleidsraamwerk vir hoër onderwys, wat Afrikaans haatlik en ongrondwetlik as ’n “uitheemse” taal klassifiseer, verdedig.
Dis skandalig dat Minister Nzimande probeer insinueer dat die DA se strewe om Afrikaans, nes ander Suid-Afrikaanse tale, tereg as ’n inheemse taal te laat erken, op een of ander manier “rassisties” is en tot “uitsluiting en onderdrukking” sal lei.
Nzimande se aandrang dat Afrikaans “uitheems” is ondanks die onbetwisbare wetenskaplike feit dat die taal in Suid-Afrika ontwikkel het en feitlik uitsluitlik in hierdie deel van die wêreld gepraat word, laat die vraag ontstaan of Nzimande ook die sprekers van die taal dus as “uitheems” beskou?
Nzimande is duidelik skuldig aan die propagering van dit waarteen regter Steven Majiedt gewaarsku het in sy uitspraak waarin Afrikaans weer by Unisa ingestel word, waarin Majiedt die “wanopvatting dat [Afrikaans] ‘die taal van blankes’ en ‘die taal van die onderdrukker’ is”, as’t ware verwerp as “’n onregmatige uitbeelding van die taal en die ware oorsprong daarvan”.
Majiedt het verder opgemerk dat “Afrikaans vandag oorwegend deur swart mense gepraat word. En nie net deur deur swart mense in die sogenaamde ‘bruin’ buurte, maar ook in baie swart woonbuurte in verskeie streke in die land. Dit is die taal van prinse en armes, wat gemaklik bestaan in die akademie en beroepe aan die een kant, sowel as in alledaagse taal andersyds”.
Gegewe dié feite, is dit tyd vir Nzimande om oop kaarte te speel oor die ware motiewe agter sy onlogiese aandrang om die Unisa-uitspraak te verontagsaam deur Afrikaans as “uitheems” te klassifiseer. Is dit omdat hy en die ANC-regering sprekers van die taal en hul kultuur as vreemd tot Suid-Afrika beskou? Glo die ANC dat die sprekers van Afrikaans nie ’n gelyke bestaansreg hier het nie? En is die praktiese doelwit agter hierdie ongrondwetlike klassifikasie van Afrikaans as “uitheems” om die taal in sy geheel uit instellings van hoër onderwys te dwing?
Die DA sal meedoënloos ons stryd voortsit om antwoorde op hierdie vrae te kry, en ons aanhou werk om te verseker dat alle inheemse tale erken en beskerm word vir die kulturele skatte wat hul is.