Mpumalanga-plaasaanval: DA veroordeel moord op ma en seun

Die DA veroordeel die moord op Anna-Marie Botha en haar seun, Ruan Britz, Saterdag tydens ’n plaasaanval naby Nelspruit, Mpumalanga, ten sterkste. Botha en haar seun is tydens ’n rooftog op die Valley Farm buite Nelspruit vermoor.

Die oortreders is steeds op vrye voet, maar die SAPD het bevestig dat ’n saak van moord en roof geopen is. Die DA se hofmoniteringstak in Mpumalanga, sal hierdie saak fyn dophou om te verseker dat die oortreders van hierdie gruwelike misdaad aan die pen ry. Die DA het reeds in elke provinsie in die land hofmoniteringsgroepe opgestel. Ons is bekommerd oor die drastiese toename in plaasaanvalle in die land die afgelope maand.

Die sinlose moord op mevrou Botha en haar seun beklemtoon weer eens die dringende behoefte om sigbare polisiëring in landelike gebiede te verskerp. Hierdie gemeenskappe het ’n verhoogde risiko vir ’n geweldsmisdaad en loop gereeld deur. Daarom herhaal die DA ons beroep dat gespesialiseerde eenhede vir landelike veiligheid ontplooi word en dat die SAPD dringend die implementering van sy landelike veiligheidsplan op nasionale vlak prioritiseer.

Ons innige meegevoel aan mev. Botha en Ruan se familie en geliefdes, sowel as die breër Nelspruit-gemeenskap.

Local Government Elections are coming up in 2021! Visit check.da.org.za to check your voter registration status.