Ons weet nou die waarheid: Cele glo boere se lewens maak nie saak nie

Die oomblik toe die Demokratiese Alliansie (DA) ons 16-punt-plan in Junie bekend gestel het om plaasmoorde en -aanvalle te bekamp, het die ANC skielik begin omgee oor die lewens van boere en plaaswerkerks. ANC-premiers en -ministers het oornag hul griewe gelug oor wreedaardige marteling en gewelddadige plaasaanvalle. Hulle het begin praat oor dié gruweldade.

Ons het hulle amper geglo. Een van die kernpunte van ons plan was om plaasaanvalle en -moorde tot prioriteitsmisdade te verklaar. Dit sou addisionele hulpbronne soos toerusting en personeel beskikbaar stel om ’n daadwerklike verskil te maak om die aanvalle en moorde drasties te laat afneem.

Op 18 Augustus het die Minister van Polisie, Bheki Cele, tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie in die Parlement op ’n DA-vraag (vraag 311) reageer wat verband hou met ons oproep op die regering om plaasmoorde en -aanvalle as prioriteitsmidade te verklaar. Hy het die volgende gesê: “Die Moord- en Roofeenheid en die Valke sal op alle aanvalle op plase en kleinhoewe reageer.” Toe hy verder gepols is, het hy die lys uitgelees en bevestig dat hierdie aanvalle reeds op die lys van prioriteitsmisdade is.

Oudergewoonte het Cele homself net ’n maand later weerspreek tydens ’n bosberaad in KwaZulu-Natal gister. Hy het dit duidelik gemaak dat plaasmoorde en -aanvalle nie prioriteitsmisdade is nie.

Dit is duidelik dat die Minister nie dink dat boere se lewens saakmaak nie, en ook nie die lewens van plaaswerkers nie. Die lewens van hulle families – ouers, kinders, gades – maak eenvoudig nie saak nie.

Dis opvallend dat hy nie geskroom het om byvoorbeeld, transitorooftogte as ’n prioriteitsmidaad te verklaar nie. Hy het leiding geneem en skielik is baie hulpbronne opsy gesit sodat trokke wat geld vervoer, die beste moontlike beskerming kry. ’n Bosberaad is gehou, transitorooftogte is deur alle sleutel-rolspelers bespreek en oplossings is gevind.

Sy ommekeer oor landelike moorde en aanvalle, laat die DA wonder: Is ’n trok vol geld vir Cele meer werd as die lewens van die mans en vroue wat ons van kos voorsien? Moet die DA hom herinner dat ons nie geld kan eet nie?

Moet ons hom herinner dat die landboubedryf 1 miljoen werke verskaf? Is dit nodig dat ons weer vir hom vertel van die boere en plaaswerkers wat skaars slaap omdat hulle in angs wag vir die volgende stroom koeëls wat rondvlieg, of om met ’n pikgraaf en stukke metaal aangeval te word?

Die ANC gee nou al vir ’n rukkie voor hulle gee om oor die lewens van landelike gemeenskappe. Dit was ’n blatante leuen en Cele het die laaste bietie hoop versplinter.

Tydens sy KZN-toespraak het hy boere se vrese arrogant verwerp en die gemeenskap oor-en-oor verneder. Sy houding, en die ommekeer van plaasmoorde en -aanvalle as prioriteitsmisdade, laat landelike gemeenskap in wanhoop.

Ons weet nou wat die waarheid is. Die daaglikse aanvalle en moorde op boere en plaaswerkers is nie vir die ANC ’n prioriteit nie. Die slagting is nie vir hulle belangrik nie. Altans, baie minder belangrik as ’n trok vol geld.