Onteiening sonder vergoeding: Suid-Afrikaners benodig beleidsekerheid

Die volgende toespraak sal vandag tydens die debat oor die Staatsrede in die Parlement gelewer word en is onder embargo tot ná die lewering van die toespraak vanaand.

Speaker, die President het tydens sy staatsrede aangedui dat sy toespraak binne die raamwerk van inklusiewe ekonomiese groei geskryf is.

Hierdie woorde het Suid-Afrikaners hoop gegee. Hoop dat beleidsekerheid gegee gaan word. Hoop dat vrese besweer gaan word, dat die versekering en versterking van almal se grondwetlike regte op ʼn inklusiewe manier aangespreek gaan word. Dat almal aan die einde van die rede ʼn gevoel gaan hê dat ons op koers is.

Helaas, het die hoop beskaam. Daar is met ʼn paar sinne ʼn streep deur die een fundamentele grondwetlike reg van elke burger van hierdie land getrek. Die reg om eiendom te besit soos verskans in art 25 van die Grondwet is in groter onsekerheid gedompel.

Ons het al by herhaling in hierdie Huis gewys op die onherstelbare skade wat ʼn gepeuter aan art 25 tot gevolg kan hê. Dit val gewoon op dowe ore.

Speaker, die president het die land verseker dat onteiening sonder vergoeding op so ʼn manier gedoen sal word dat dit nie die ekonomie en voedselsekuriteit in gedrang sal bring nie.

Wat is egter die werklikheid?

Sedert die begin van hierdie proses het sake en verbruikersvertroue tot ʼn rekord laagtepunt verswak.  Die aantal landbougrond-transaksies het regoor die land afgeneem. Private vastebeleggings toon geen vordering nie en onlangs is die Landbank deur Moody’s tot rommelstatus afgegradeer. En hulle motivering daarvoor is die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding tot gevolg sal hê.

Speaker, wat word van verbande wat op eiendom geregistreer is en sonder vergoeding onteien word? Soos dit blyk uit kommentaar vanuit die banksektor, gaan die persoon wat die verband uitgeneem het steeds daarvoor verantwoordelik wees. Met ander woorde die staat kan jou eiendom onteien en jy moet nog steeds betaal.

Dit impak hiervan, nie net op die individu nie, maar die finansiële sektor is geweldig. Daar is tans R1.6 triljoen se verbande op residensiële, kommersiële en landbou-eiendom deur banke toegestaan. Die Landbank kan R53 miljard verloor.

Dit kan die banksektor ʼn fatale knou toedien.

Daar kan nie van ekonomiese groei sprake wees as daar nie beleidsekerheid is nie. Die President en die ANC regering se bontpratery en Orwelliaanse dubbelpraat oor wat die wysiging moet wees, bied nie beleidsekerheid nie.

Die aanvanklike motivering vir die wysiging van art 25 was om dit wat implisiet is, eksplisiet te maak. Dit is ʼn vals argument. Die Grondwet is voldoende eksplisiet oor spesifiek grondhervorming en restitusie. ʼn Standpunt wat ook deur die Hoëvlak Paneel gehuldig is. Maar, bygessê, dit is ʼn verslag wat volledig deur die Ad Hoc komitee geïgnoreer word. Wat nodig is, is ʼn toetssaak wat vir ons regsekerheid sal gee en nie ʼn wysiging van die Grondwet nie.

Ons het nou die 18de Grondwetlike Wysigingswetsontwerp. Hiervolgens, word voorsiening gemaak vir nil R vergoeding en dat wetgewing gebruik sal word om die omstandighede te bepaal vir wanneer daar onteiening sonder enige vergoeding is. Dit op sigself is uiters problematies, aangesien grond nie slegs landbou grond is nie maar enige grond insluit sowel as enige verbeterings wat daarop aangebring is. Verder word die goedkeuringsdrempel verlaag na ʼn gewone meerdheid in die Parlement.

Maar, nog meer problematies is die aankondiging, gemaak deur die president self, na afloop van die ANC NUK lekgotla. Die regerende party ondersteun ʼn wysiging wat die besluit oor die quantum van vergoeding in die hande van die uitvoerende gesag sal toelaat, met ander woorde, dat  die minister en dat die howe se rol verminder word. Die argument wat aangevoer word is dat die howe die proses vertraag. Derhalwe moet een van die mees fundamentele grondwetlike menseregte in die hande van ʼn minister gelaat word. As ʼn persoon nie gelukkig is nie kan hy of sy eers na afloop van die proses die howe nader om hersiening. Hersiening van die administratiewe proses, of hersiening van die substantiewe skending van ʼn grondwetlike reg? Ons weet nie en mnr die President, u sê nie.

Suid-Afrka se Grondwet is onomwonde ten gunste van die beskerming van eiedomsregte. Vergoeding moet billik en regverdig wees. En sodanige beslissing moet aan die hand van verskeie faktore wat in art 25 aangedui word, gedoen word. Dit is egter nie ʼn geslote lys nie en vereis ʼn delikate balanseringtoertjie waarin verskeie belange teen mekaar geweeg en gemeet moet word.

Dit is en was nog altyd die DA se standpunt dat die howe die enigste geskikte forum is om kompeterende belange op te weeg en in die lig van elke geval se unieke omstandighede ʼn beslissing te maak oor wat billike en regverdige vergoeding is.

Die besluit van die President en die ANC dat die howe se rol as finale arbiter verminder word deur dit te beperk tot hersiening, verwyder die beskerming teen misbruik wat die Grondwet aan alle Suid-Afrikaners bied. Die rol van die howe word dus vervang met die arbitrêre diskresie van politici en die burokrasie.

Dit word nou duidelike dat wat die regerende party nou wil doen is om die Grondwet te verander sodat die Onteieningswetsontwerp die grondwetlike toets kan deurstaan. Mnr die President, as een van die opstellers van die Grondwet, was dit seer sekerlik nie die bedoeling nie. Die Grondwet is die uiteindelike beskermingsmeganisme teen die staat se vergrype.

Hierdie voorgestelde wysiging is ʼn aanval op die oppergesag van die reg soos voorsien in Art 1 van Hoofstuk 1 van die Grondwet, waarin die grondbeginsels van Grondwet vervat word.

Speaker, indien die rol van die howe soos gestipuleer in die Grondwet verminder word, het ons nie meer te doen met ʼn wysiging van die Grondwet wat ʼn 2/3 meerderheid vereis nie, maar goedkeuring van 75% van die Nasionale Vergadering. Dit is hoe gevaarlik die ANC se posisie is. Dit gaan teen die grein van die Grondwet. Dit stel Suid-Afrika oop vir gruwelike magsmisbruik.

Uiteindelik is dit niks meer as die regering se poging om sy eie mislukking met grondhervorming toe te smeer nie.

Suid-Afrikaners verdien beter as dit.

Mnr die President, u kon hoop gee, u kon beleidsekerheid gee. Maar u het verkies om dit nie te doen nie. Inteendeel, ons het verwag dat u u sterk sal uitspreek teen enige vorm van grondgrype soos wat die EFF in die Vrystaat dreig om te doen.

Die DA sal daarenteen voortgaan om behoorlike, billike, en effektiewe grondhervorming te bevorder wat werklike ekonomiese groei en voedselsekerheid sal verseker.

Ons sal geen steen onaangeroer raak om die eindomsreg van elke Suid-Afrikaner te beskerm en te verdedig nie.